Sasolburg Aanrandings

Hof hoor Alzheimer-pasiënt het versorger met vuis geslaan

Volksblad 2011/11/16
"Hierdie berig is n presiese weergawe van die berig wat in die koerant verskyn het. Regstellings rakende die berig is moontlik n� die publikasie daarvan gedoen. Soek asseblief in die argief en/of ander nuusbronne vir moontlike regstellings om die nuutste inligting te bekom."
Riata Nel
SASOLBURG. – Dis nie sy en haar medebeskuldigde wat ’n bejaarde Alzheimer-pasiënt by ’n ouetehuis op Sasolburg aangerand het nie, maar hy wat hulle aangerand het, het ’n vrou gister in die plaaslike landdroshof getuig.
“Ou mense vergeet en vertel leuens,” het me. Aletta Mphuti (47) getuig.
Mense met Alzheimer se siekte is vergeetagtig, hulle val terug op vorige gewoontes en jok oor goed wat nie gebeur het nie, het sy aan die hof gesê.
Mphuti en me. Paulina Mofo-keng (38), voorheen versorgers by die Ons Gryse Jeug-tehuis, staan tereg  op  ’n aanklag  van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die vroue het mnr. Billy van Goethem (82) na bewering op 4 Januarie verlede jaar in sy kamer in die tehuis aangerand.
Kringtelevisie-beeldmateriaal waarna gister gekyk is, wys hoe Van Goethem vermoedelik aangerand is.
Dit wys hoe die twee versorgers by die kamer instap, waarna wit gordyne om sy bed toegetrek word vir privaatheid.
Die aanranding het glo agter die gordyne gebeur en op die beeldmateriaal kan van die bewegings en die skaduwees teen die wit gordyn gesien word.
“Sy doek was nat, ons moes dit ruil en sy kamerjas vir hom aantrek,” het Mphuti gesê.
Sy het beweer Van Goethem het hulle aangerand deur hulle met die vuis te slaan.
“Ons het sy kamerjas vir hom aangetrek. Hy het my met die vuis op die mond geslaan. Drie tande is los geslaan. Dit het uitgeval toe ek ontslaan is.”
Mphuti het getuig sy het die voorval nie aangemeld nie, maar dit wel ’n paar dae later in die voorvalleboek aangeteken.
Mphuti het agt jaar by Ons Gryse Jeug gewerk en het ’n kursus in die hantering van Alzheimer-pasiënte voltooi.
“Ek het nie geweet hy is ’n Alzheimer-pasiënt totdat ons weggejaag is nie.”
Mev. Elza van Goethem het haar man op die dag verskrik in sy stoel gekry
Van Goethem het kneusplekke op sy gesig en lyf gehad en het heeltyd met sy hande voor sy gesig geskerm.
Die twee versorgers is ná ’n interne ondersoek ontslaan.
Die hofsaak duur voort.