Ondersoek ‘vorder goed’
Sestien bejaardes sterf in vyf maande
Berig soos verskyn het in News24
Die ondersoek na die omstrede Huis Serendipity vir bejaardes in
Panorama, waar 16 bejaardes sedert Junie vanjaar gesterf het, “vorder
goed”. Die tehuis is gemagtig om 28 bejaardes te versorg.Volgens Pat Lindgren van Action on Elder Abuse, wat die ondersoek namens die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling behartig, vorder die ondersoek goed en het hulle vandeesweek begin om kinders van inwoners en voormalige inwoners te kontak.
Talle bewerings
Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, het die ondersoek ingevolge die Wet op Ouer Persone gelas nadat talle bewerings oor mishandeling en verwaarlosing by die tehuis gemaak is.
“As ons ondersoek enige misdadige gedrag ontbloot, sal ons die saak aan die polisie vir verdere ondersoek en vervolging oorhandig,” het Fritz vroeër gesê.
Dit het vandeesweek aan die lig gekom dat nog ’n inwoner van die tehuis gesterf het. Lana van Zyl (88) is op 14 Oktober oorlede nadat sy vir ses weke gehospitaliseer en haar been bo die knie afgesit is weens gevorderde bedsere.
“Sy is aan septiese skok en orgaanversaking oorlede,” het haar dogter, Linda Burger, vandeesweek gesê. Volgens Burger is haar ma vir vyf jaar in Huis Serendipity versorg.
Toe sy op 23 Augustus in die Mediclinic Panorama opgeneem is, het die dokter aan diens glo vir haar gesê dit is die ergste geval van verwaarlosing wat sy nóg in dié hospitaal gesien het. Sy was ondervoed, ontwater en haar liggaam was in ’n erge spasma. “Sy was deurtrek van septisemie,” het Burger gesê.
Sy het gesê sy het haar ma, wat aan Alzheimersiekte gely het, elke twee weke besoek en agtergekom sy gaan vinnig agteruit, maar was nie bewus van die bedsere wat onder haar klere versteek was nie.
‘Twak’
Sharon Roberts, eienaar van Huis Serendipity, het egter gesê aantygings dat bejaardes verwaarloos en selfs mishandel is by haar tehuis, is twak.
Volgens haar is daar mediese verklarings vir al die sterfgevalle.
Fritz het die ondersoek gelas nadat ’n voormalige werknemer beweer het inwoners word ondervoed, verwaarloos en in hul kamers toegesluit.
Roberts hou egter vol dat bedlêende inwoners elke twee uur deur die personeel omgedraai word om bedsere te voorkom en ontken ook die misbruik van medikasie ten sterkste.
Sy het ook briewe gewys waarin kinders van inwoners vertel hoe tevrede hulle is met die diens by Huis Serendipity.