Ouma erg mishandel in tehuis
Versteekte kamera wys hoe versorger seniele vrou laat krul
van die pyn
Deur Johan Eybers Sondag 17 Mei 2015 05:10
Die joernaalprogram Carte Blanche saai Sondagaand dié
skokkende videomateriaal op M-Net uit wat wys hoe ’n seniele 84-jarige bejaarde
vrou deur haar versorger in ’n “spog-” private ouetehuis in Oos-Londen in die
Oos-Kaap mishandel word.
’n Vrou wie se ma in ’n spogtehuis in die Oos-Kaap versorg
word, het met die hulp van ’n versteekte kamera skokkende bewyse bekom van hoe
haar ma deur ’n oppasser mishandel word.
Die ondersoekende TV-program Carte Blanche saai vanaand
grepe uit van die mishandeling, wat volgens die aanbieder Derek Watts die
ergste geval van sulke mishandeling is waaroor hy nóg berig het.
In die beeldmateriaal wat die 84-jarige slagoffer se dogter
aan Carte Blanche gegee het, kan
gesien word hoe haar versorger haar stamp, met die elmboog slaan, skop en selfs
deodorant spuit in haar trageotomie (gat in haar lugpyp) sodat sy skynbaar krul
van die pyn.
George Mazarakis, uitvoerende vervaardiger van Carte Blanche,
sê die slagoffer is seniel en kon dus nie vertel wat met haar gebeur nie. Maar
haar dogter het op een van haar daaglikse besoeke agtergekom iets skort.
Sy het ’n videokamera in die kamer versteek en agterna die
videomateriaal bestudeer.
Dit het duidelik gewys hoe haar ma aangerand word, sê
Mazarakis.
“Ure en ure se materiaal is opgeneem,” sê Mazarakis.
“Die videomateriaal is beslis nie vir sensitiewe kykers en
jong kinders bedoel nie. Dit is wel van uiterste openbare belang om die materiaal
uit te saai om die gemeenskap bewus te maak van die hartseer werklikheid dat
bejaardes mishandel word wanneer hulle weerloos is,” sê hy.
Watts sê dit is duidelik
uit die onderhoud met die versorger dat sy nie behoorlik opgelei is om na
verswakte bejaardes en veral mense wat seniel is, om te sien nie.
Dr. Mzukisi Grootboom, voorsitter van die Suid-Afrikaanse
Mediese Vereniging (SAMV), en dr. Liz Gwyther, hoof van die Hospiese en
Palliatiewe Sorgvereniging van Suid-Afrika (HPCA), is albei geskok oor die
groot hoeveelheid klagtes van bejaardes wat in private ouetehuise aangerand en
mishandel word.
“Dit blyk dat baie van hierdie instansies net op winsbejag
ingestel is,” sê Grootboom.
“Hulle voldoen glad nie aan die vereistes om ’n ouetehuis
voldoende te bestuur nie en beskik nie oor opgeleide personeel om na verswakte
bejaardes om te sien nie,” sê hy.
Volgens hom behoort tehuise baie strenger gemonitor te word
en lisensies eenvoudig teruggetrek word indien hulle nie aan hul
lisensievoorwaardes voldoen nie.
Volgens Gwyther moet ouetehuise seker maak dat hulle
verpleegsters met die nodige kundigheid aanstel.
“Dit vereis ’n besonderse vlak van kundigheid om mense met
dimensie en Alzheimer se siekte te versorg,” sê sy.
■ Carte Blanche word vanaand om 19:00 op M-Net
uitgesaai.