Daagliks
kan in die
media gelees word van oumense wat mishandel word in hulle eie huise en in
sorgsentrums. Hierde euwel steek almal dwars in die krop maar wie van ons doen
daadwerkliks iets daaraan? Almal is bang om betrokke te raak, selfs familielede
kyk maar ander pad om nie konflik met byvoorbeeld die bestuur van ‘n ouetehuis
te veroorsaak nie.
Die
oumense veral in sorgsentrums word daagliks mishandel. Die oumense word verbaal
aangeval en in ander gevalle afgeknou. Selfs fisiese aanrandings vind gereeld
plaas. Die oumense is te bang om iets omtrent mishandelings te sê deurdat hulle
bang is vir viktimisasie en intimidasie en dat hulle op straat uitgegooi sal
word. Ja en die oumense weet wat agter toe deure gebeur sou hulle kla. Dit het
al aan die lig gekom dat die bestuur van ‘n sentrum die inwoners dreig dat
hulle die inwoners wat kla sal uitgooi.
Al
word die bestuur van ‘n sorgsentrum bewus van mishandelings deur personeel,
word daar niks aan die saak gedoen nie en alles word toegesmeer omrede die
bestuur daardie sentrum se naam wil beskerm. Personeel by hierdie sentrums word
gedreig deur die bestuur dat hulle hul werk sal verloor indien hulle sou
uitpraat oor die mishandelings. So die situasie vir die oumense is soms
ondraaglik maar voel magteloos om iets daaraan te doen.
Daar
is baie oumense wat ‘n wonderlike oudag belewe en dit gaan darem nie sleg by al
die sorgsentrums nie. Daar is sorgsentrums wat werklik omgee vir die oumense en
die inwoners is ook baie gelukkig om hulle laaste goue jare daar deur te bring.
Maar wat van die oumense wat nie ‘n so ‘n gelukkige posisie is nie? Dit is vir
hulle wat ons almal moet opstaan en ‘n stem wees vir dit wat hulle nie meer kan of mag doen nie.
‘n
Inwoner wat in ‘n sorgsentrum deur haar familie geplaas is en feitlik net een
maal per jaar deur haar familie besoek word, het eendag ‘n opmerking gemaak dat
sy voel dat oumense op 60 jarige ouderdom soort van ‘n “vervaldatum” bereik. Is
dit wat met ons oumense gebeur? Is dit die rede waarom oumense sleg behandel word?
Het hulle nou ‘n “vervaldatum” bereik en word hulle nou beskou as uitgedien en
nutteloos?
Baie
oumense voel hulle kan
nie meer alleen woon nie en gee hulle huise op om in ‘n sorgsentrum te woon.
Dit is nie net hulle blyplek wat hulle opgee nie. Hulle gee ook hulle meubels en
alles wat sentimentele waarde het op. Hulle gee moontlik ook hulle diere op.
Baie hartseer maar ook baie waar soms gee hulle ook hulle families op. ‘n
Sorgsentrum word dan gekies om hulle laaste jare in deur te bring, die gebou is
pragtig en vir verdere gemoedsrus word daardie sorgsentrum dalk deur die een of
ander kerkorganisasie hanteer, maar wat gaan regtig agter die skerms aan? Hoe
groot moet die ontnugtering wees as hierdie oumens moet ervaar dat hulle
mishandel word.
My
gevoel is dat enige iemand wat bewus word van sulke mishandelings moet nie
stilbly nie. Die oumense het ons stem nodig om te praat waar hulle nie kan nie. Die oortreders
moet ontmasker word. Ek weet dat dit wat ons nou doen is maar net ‘n klein
druppeltjie in die emmer maar baie druppels is wat die emmer volmaak. Ek weet
ook dat om ‘n bohaai by die bestuur van hierdie sentrums op te skop sal nie
veel help nie, maar hoe meer lede van die publiek hierdie bestuurslede ten
minste kan laat verstaan dat ons as publiek bewus is van wat hulle doen, hoe
groter is die kans dat daardie bestuurslede wel sal reageer.
Laat
ons saam staan teen hierdie euwel in ons gemeenskap en laat ons die stem wees
vir ons oumense. Een van die dae is ons die oumense en dan sal ons te dankbaar
wees indien daar iemand is wat vir ons sal opkom.