Bejaardes se tehuise was ontnugterend
ONTNUGTERDE MAATSKAPLIKE WERKER, Oudtshoorn, skryf: Die lewensomstandighede en veral die versorging van senior burgers lê my na aan die hart. Ek was 'n paar jaar as maatskaplike werker eers betrokke by bejaardes wat nog selfstandig woon en later ook in 'n tehuis vir bejaardes. Wreed was my ontnugtering toe ek later besef dat niks blywends kom van my ideale om in die huidige versorgingsomstandighede kwaliteit by die lewe van die tehuis-inwoners te voeg nie.BOEKDELE
Daarom het ek liewer uit die pos bedank as om langer deel te hê aan die ``versorging'' van die inwoners. Oor die versorging, die geestelike aftakeling en die stroping van die menswaardigheid van die inwoners kan boekdele geskryf word. Na aanleiding van die versoek van ``Bejaardesorg'' van Kaapstad dat 'n vereniging vir die mishandelde bejaarde gestig moet word (''Stig 'n vereniging vir mishandelde bejaarde'', Menings, 15 Desember), kan net iets goeds gebore word.
VERWELKOM
Dan sal die publiek kennis neem van die werklike omstandighede van die versorging van bejaardes, en sal die bejaardes en familielede hul toevlug kan neem tot 'n onafhanklike vereniging wat aandag aan hul klagte sal gee. Maar sal die onderskeie verenigings wat die tehuise beheer, so 'n vereniging verwelkom? En sal ondersoeke toegelaat word? Om aan die senior burgers die eervolle erkenning en versorging te gee wat hulle toekom, sal daar 'n algehele verandering in die versorgingsomstandighede moet kom.
FORMEEL
Daar sal wegbeweeg moet word van die hospitaalagtige inrigtings en die huidige versorgingsmetodes. Die personeel se gesindheid en optrede sal in sommige gevalle drasties moet verander. Miskien moet die personeelopset verander. Daar word nie eens gepraat van die formele inspeksies waarvan maande vooruit kennis gegee word nie. Die dag van die inspeksie is alles soos uit die boek en nie soos die inwoners dit daagliks beleef nie. Soos ``Bejaardesorg'' meld, moet die versorging van bejaardes deur en deur ondersoek word. Die vraag is of die Verpleegstersraad of Nasionale Raad vir Bejaardes ooit suksesvol genader kan word.
EERVOL
Sal die versorgingsituasie ooit uit die oog van die weerlose, vreesbevange en algeheel afhanklike inwoners gesien word - veral uit die oog van hulle wat geen ander keuse as inwoning in 'n tehuis vir bejaardes het nie? Wie is die belangrikste: die inwoner of die personeel? Mag die dag kom dat alle bejaardes wat op inrigtings moet staatmaak, die nodige eervolle versorging en erkenning kry, maar veral as mense raakgesien word. S.C.A. ECKLEY, Direkteur, SA Nasionale Raad vir Bejaardes, Posbus 2335, Kaapstad, antwoord: Tehuise vir bejaardes sal altyd met 'n kleed van omstredenheid omhul wees. Aan die een kant kan hulle gesien word as 'n teken van maatskaplike verval en onbetrokkenheid omdat daar al hoe minder plek vir ouer mense in ons huise en gemeenskap is. In dieselfde asem staan die tehuise ook as simbole van 'n nuwe geslag bejaardes wat verkies om op hulself aangewese te wees en nie van kinders of familie afhanklik te wees nie. Die versorging binne 'n tehuis stel buitengewone eise aan inwoners en personeel. Baie keer is inwoners nie goed voorberei op 'n leefwyse wat gekenmerk word deur allerlei beperkinge en reëls nie. Van die personeel word baie toewyding, geduld en liefde gevra om mense wat fisiek en psigies verswak raak, te versorg.
BELEID
'n Inrigting op sy heel beste is net 'n afbeelding van die persoonlike sorg in 'n eie woonplek tussen jou eie mense. Ingevolge huidige regeringsbeleid behoort net ernstig verswakte mense wat 24 uur per dag sorg nodig het en nie in die gemeenskap kan bly nie, tot tehuise toegelaat te word. Ongelukkig is daar in Suid-Afrika te veel blanke bejaardes in tehuise wat nog hul onafhanklikheid in die gemeenskap kon behou het. Dit is 'n ongesonde situasie. Baie tehuise moet gevolglik voorsiening maak vir sowel gesonde en lewenslustige as verswakte en soms verwarde mense. Dit is amper soos om 'n hospitaal en 'n losieshuis onder een dak te huisves.
KOMMER
In sy geheel gesien, is die kliniese standaarde vir die versorging van blanke bejaardes in Suid-Afrikaanse inrigtings van die hoogste ter wêreld. Nie alleen is verplegingstandaarde hoog nie, maar geriewe is in baie gevalle besonder luuks. Is die aantygings van ``Ontnugterde Maatskaplike Werker'' totaal ongegrond? Die growwe veralgemenings ten spyt is daar tog rede tot kommer dat inwoners nie oral met waardigheid en respek versorg word nie. Dit is nie gepas om oor wanpraktyke uit te wei nie, maar eerder om 'n paar maatstawe neer te lê waaraan goeie inrigtingsorg gemeet kan word. Die volgende kriteria kan as meetstok gebruik word.
TALENTE
Ongeag ouderdom, geslag, graad van verswakking of ekonomiese status het elke inwoner die reg tot individualiteit en erkenning. Prakties beteken dit dat geleenthede gegee word vir: Beskerming van privaatheid; Ontwikkeling van talente en vermoëns; Outonomie soos deur die graad van verswakking bepaal word; Toegang tot inligting en reg tot verteenwoordiging, inspraak en bedinging. 'n Huiskomitee om die belange van inwoners te beskerm is 'n moet; en Kontak met omgewing, familie en vriende. Rigiede besoekure moet vermy word.
KARAKTER
Ek is ten gunste van 'n vereniging vir die beskerming van die regte van ouer mense. Die Amerikaners het 'n beweging met die naam ``Grey Panthers'', wat 'n wakende oog hou oor die belange van afgetredenes. Wat van die ``Grys Springbokke'' vir Suid-Afrika? Die Beheerrad bepaal die karakter en gehalte van sorg. Daarom is dit belangrik dat mense met die nodige kennis en belangstelling daarin dien. Dit is nodig dat die Beheerraad voortdurend nuwe bloed kry, sodat vernuwing aan die orde van die dag sal wees. Beheerraadslede moet deurentyd met inwoners in gesprek bly. Die personeel moet ook aangemoedig word om met nuwe ideë na vore te kom en teen stagnasie waak.
MAS OPKOM
Inwoners is baie kwesbaar. Daarom moet sorg gedra word dat die personeel noukeurig gekeur en deurlopend opgelei word. Buigsame prosedures moet voorkeur kry bo rigiditeit, want inwoners is in die eerste plek mense en nie pasiënte nie. Eienskappe van goeie personeellede is warmte, geduld, belangstelling en respek. 'n Inrigting kan nie sonder sy verpleegpersoneel die mas opkom nie, maar ek ag 'n maatskaplike werker as onontbeerlik. 'n Maatskaplike werker kan baie beteken om die klem op persoonlike sorg te plaas en help om die ``inrigtingsgemeenskap'' te ontwikkel en te verhuislik. Vrywilligers en 'n versorgingsprogram kan verseker dat die diens persoonlik en informeel bly. Vrywilligers verlig die druk op die personeel en help met die stimulering van inwoners. Sonder vrywilligers is die diens gewoonlik koud en abstrak.
HUISLIK
Die benutting van inwoners om mekaar by te staan is 'n goeie manier om betrokkenheid en gebondenheid te verhoog. Dit help om die inrigting huisliker te maak. In 'n tehuis val die klem op kontak tussen mense. Nie alleen moet die fisieke omgewing huislik wees nie, maar die reëls moet dit moontlik maak dat inwoners tuis en gelukkig voel. Die hospitaalkarakter van baie inrigtings hou niks goeds in vir 'n huislike atmosfeer in nie. Die raad stry reeds jare om die owerheid en professies te oortuig dat bejaardes nie soos pasiënte behandel behoort te word nie. Inspeksies word gereeld en volledig deur die staat uitgevoer, en waar nodig word op veranderinge aangedring. Ek meen dat inspekteurs sonder uitsondering tydens 'n inspeksie met die huiskomitee in gesprek tree. Die inwoners durf nie ge-&cchar9;ignoreer word nie. Inwoners moet gehelp word om steeds hul vermoëns en talente te ontwikkel. Fisieke en psigiese stimulasie moet daagliks plaasvind en almal moet betrek word. Bejaardes het nie net kos, 'n bad en 'n bed nodig nie.
BYEKORF
In inrigtings waar maatskaplike werkers allerlei projekte bedryf, soos oefeninge, uitstappies, lees, musiek en studiegroepe, is reeds ontdek hoeveel verborge talente daar is. Daar is tehuise wat gerus maar hul lykhuis-karakter kan verruil vir dié van 'n byekorf waar almal woel en werskaf. Mense wat nie meer ideale het nie, word nutteloos en 'n las. 'n Tehuis kan baie doen om sy inwoners aan te moedig om steeds die lewe te geniet en diensbaar te wees. Tehuise is nie bedoel vir passiewe klaar-met-die-wêreld-mense nie, maar vir mense wat elke dag herontdek hoeveel daar is om nog te doen. Ek glo dat God bedoel het dat die mens nie voor sy dood ophou om steeds te ontdek en te groei nie.