Tehuis wil gryse uitsit

Tehuis wil gryse uitsit; stryd hou ná dood aan

Deur Sonja Carstens Maandag 09 Maart 2015 05:30

’n Verswakte bejaarde man is dood midde-in ’n ses jaar lange regstryd tussen hom en sy kinders en die ouetehuis wat hom uit sy kamer wou sit.
Die appèlhof in Bloemfontein het beslis nie eens Roland Heinrich Dohmen se dood het die stryd tussen sy kinders, Daniël Heinrich Dohmen en Margretha Anna Botha, en die Deutsches Altersheim in Pretoria beëindig nie.
Appèlregter Viswanathan Ponnan het namens ’n volbank regters bevind die Dohmen-kinders is ook verantwoordelik vir die voorsetting van die regstryd. Dit is daarom regverdig dat hulle ’n derde van hul regskoste moet dra. Die ouetehuis moet die res betaal.
Die tehuis het op 5 Maart 2007 ’n ooreenkoms met wyle Dohmen aangegaan ingevolge waarvan hulle hom teen R3 420 per maan in die verswaktesorgafdeling sou versorg.
Sy kinders het die ooreenkoms as sy voogde onderteken.
Op 31 Oktober 2009 is Dohmen in ’n brief ingelig dat die tehuis nie anders kan nie as om hom kennis te gee om sy kamer te ontruim nadat hulle regsadvies ingewin het.
Dohmen het geweier. Die tehuis het hom tot die Pretoriase landdroshof gewend vir ’n bevel om hom te gelas om uit die kamer te trek. Die bevel is toegestaan.
Dohmen en sy kinders het suksesvol in die hooggeregshof in Pretoria daarteen geappelleer, waarna die tehuis hom na die appèlhof gewend het.
Die appèl sou op 19 Februarie aangehoor word. Dohmen is egter op 12 Januarie oorlede.
Die tehuis wou aanvanklik voortgaan met die appèl en het aangevoer die hooggeregshof het die ooreenkoms tussen hulle en Dohmen verkeerd vertolk en dat dit verreikende gevolge vir die tehuis en soortgelyke instan-sies inhou.
Die tehuis het gemeen ’n behoorlike vertolking van die ooreenkoms is van kardinale belang vir die publiek en regsgemeenskap.
Die kinders het aangevoer dit sou net “akademies” van aard wees om voort te gaan met die appèl. Die partye het toe ingestem om die appèlaansoek te laat vaar.
“Die praktiese uitwerking van die ooreenkoms tussen die partye is dat dit outomaties beëindig word met mnr. Dohmen se dood,” het Ponnan gesê.
Die partye het egter bly stry oor die verspilde regskoste voor sy dood.