Bladsy 1

Daagliks kan in die media gelees word van oumense wat mishandel word in hulle eie huise en in sorgsentrums. Hierde euwel steek almal dwars in die krop maar wie van ons doen daadwerkliks iets daaraan? Almal is bang om betrokke te raak, selfs familielede kyk maar ander pad om nie konflik met byvoorbeeld die bestuur van ‘n ouetehuis te veroorsaak nie.


Die oumense veral in sorgsentrums word daagliks mishandel. Die oumense word verbaal aangeval en in ander gevalle afgeknou. Selfs fisiese aanrandings vind gereeld plaas. Die oumense is te bang om iets omtrent mishandelings te sê deurdat hulle bang is vir viktimisasie en dat hulle op straat uitgegooi sal word. Dit het al aan die lig gekom dat die bestuur van ‘n sentrum die inwoners dreig dat hulle die inwoners wat wat klae sal uitgooi.


Al word die bestuur van ‘n sorgsentrum bewus van mishandelings deur personeel, word daar niks aan die saak gedoen nie en alles word toegesmeer omrede die bestuur daardie sentrum se naam wil beskerm. Personeel by hierdie sentrums word gedreig deur die bestuur dat hulle hul werk sal verloor indien hulle sou uitpraat oor die mishandelings. So die situasie vir die oumense is soms ondraaglik maar voel magteloos om iets daaraan te doen.


Daar is baie oumense wat ‘n wonderlike oudag belewe en dit gaan darem nie sleg by al die sorgsentrums nie. Daar is sorgsentrums wat werklik omgee vir die oumense en die inwoners is ook baie gelukkig om hulle laaste goue jare daar deur te bring. Maar wat van die oumense wat nie ‘n so ‘n gelukkige posisie is nie? Dit is vir hulle wat ons almal moet opstaan en ‘n stem wees vir dit wat hulle nie meer kan of mag doen nie.


‘n Inwoner wat in ‘n sorgsentrum deur haar familie geplaas is en feitlik net een maal per jaar deur haar familie besoek word, het eendag ‘n opmerking gemaak dat sy voel dat oumense op 60 jarige ouderdom soort van ‘n “vervaldatum” bereik. Is dit wat met ons oumense gebeur? Is dit die rede waarom oumense sleg behandel word? Het hulle nou ‘n “vervaldatum” bereik en word hulle nou beskou as uitgedien en nutteloos?


Baie oumense voel hulle kan nie meer alleen woon nie en gee hulle huise op om in ‘n sorgsentrum te woon. Dit is nie net hulle blyplek wat hulle opgee nie. Hulle gee ook hulle meubels wat sentimentele waarde het op. Hulle gee moontlik ook hulle diere op. Baie hartseer maar ook baie waar soms gee hulle ook hulle families op. ‘n Sorgsentrum word dan gekies om hulle laaste jare in deur te bring, die gebou is pragtig en vir verdere gemoedsrus word daardie sorgsentrum dalk deur die een of ander kerkgenootskap hanteer, maar wat gaan regtig agter die skerms aan? Hoe groot moet die ontnugtering wees as hierdie oumens moet ervaar dat hulle mishandel word.

                                                                                                                      ... Bladsy 2